
Oud-Puk ontvang vierde eredoktorsgraad
‘n Oudstudent en -hoogleraar van die voormalige PU vir CHO en internasionale kenner van anorganiese chemie het pas sy vierde eredoktorsgraad ontvang.
Prof. Rudi van Eldik het sy DSc aan die PU vir CHO behaal en in 1980 sy na-doktorale studies in die VSA en Duitsland voortgesit. Volgens prof. Kobus Pienaar, die dekaan van natuurwetenskappe
by die NWU-Puk, het Van Eldik ‘n fenomenale sukses van sy loopbaan in die buiteland gemaak en is tans die hoof van die instituut vir anorganiese en analitiese chemie aan die Universiteit van Erlangen-Nürnberg in Duitsland.
Van Eldik het in 1997 sy eerste eredoktorsgraad van die PU vir CHO ontvang, gevolg deur een van die Kragujevac Universiteit in Serwië in 2006 en nog een van die Jagiellonian Universiteit in Poland. Hy het pas sy vierde eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria ontvang.
Pienaar sê Van Eldik was ook sy promotor tydens sý nagraadse studies. Van Eldik tree in Oktober vanjaar af by die Universiteit van Erlangen-Nürnberg en Pienaar sal dié geleentheid gaan bywoon.
Prof. Rudi van Eldik.
Gepubliseer deur Nikki Nel op 2 September 2010.


