
NWU-studente doen goeie werk tydens FIFA-wêreldbeker
Positiewe terugvoer is ontvang oor die 23 NWU-studente wat hul internskappe tydens die Wêreldbeker by Host Broadcasting Services by die Royal Bafokeng-stadion in Rustenburg voltooi het.

‘n Groep van 23 studente van die Noordwes-Universiteit is tydens ‘n spesiale geleentheid bedank vir hulle werk tydens die Sokker Wêreldbeker.
Me. Bernice Smit, bestuurder van die NWU se Loopbaansentrum, sê 330 studente is landwyd by universiteite gewerf om dié internskappe by die nege stadions in die land tydens die toernooi te doen.
Die studente is deur strawwe onderhoude en suksesvolle kandidate het werkswinkels bygewoon waar hulle opleiding ontvang het oor gasheeruitsendings, televisieproduksies, die koördinering van funksies en geleenthede en die rol wat hulle tydens die toernooi moet vervul.
Die studente het daagliks met ‘n bussie vanaf Potchefstroom na Rustenburg gery en in die proses meer as 8 000km afgelê. Hulle take het gewissel van bystand aan uitsaaiers in kommentaarhokkies tot werk in die produksiesentrum van die internasionale uitsaaisentrums tot hulp met die logistiek van die gasheeruitsendings.
Die direkteur van FIFA TV, mnr. Niclas Ericson, het gesê die projek vergestalt FIFA se doel om ‘n nalatenskap in Suid-Afrika te laat lank ná die laaste fluitjie van die Wêreldbeker geblaas is. “Die studente het ‘n integrale deel van die Wêreldbeker se produksie gevorm en ons hoop dat hierdie ondervinding ‘n stewige basis vir ‘n suksesvolle toekoms in die uitsaaiwese gelê het.”
Die kursusse is deur HBS by die MAPPP-Seta (media, advertising, printing, publishing and packaging) geakkrediteer en studente het krediete daarvoor ontvang soos dit deur Suid-Afrikaanse Kwalifikasie Owerheid voorgeskryf is. ‘n Lys van die studente sal ook aan Suid-Afrikaanse uitsaaimaatskappye voorsien word aangesien hulle deur ‘n goeie leerskool tydens die toernooi is.
Gepubliseer deur Nikki Nel op 10 Augustus 2010.


