Printer-friendly version
Druk
Share this
 

NWU navorsing oor uitvoergeleenthede ʼn eerste in SA

Ekonome van die Noordwes-Universiteit het ’n navorsingsmodel ontwikkel om uitvoergeleenthede vir Suid-Afrika te identifiseer. Dit is ’n eerste in Suid-Afrika en wat omvangrykheid betref ook ’n eerste in die wêreld.
 Daarby het die navorsing wat die model voorafgegaan het, aanleiding gegee tot drie doktorsgrade en twee meestersgrade wat onlangs aan die NWU behaal is. ’n Verdere drie doktorale studente is ook tans betrokke by die navorsing.

Uitvoergeleenthede 510

Hier is mnr. Victor Mathale (Departement van handel en nywerheid), me. Ermie Steenkamp (NWU), mnr. Riaan le Roux (Trade and Investment SA, Departement handel en nywerheid), prof. Wilma Viviers (NWU), prof. Ludo Cuyvers (Universiteit van Antwerpen) en dr. Riaan Rossouw (buitengewone navorsingswetenskaplike NWU).


  Die navorsingspan, onder leiding van prof Wilma Viviers, Direkteur van die Skool vir Ekonomie op die NWU se Potchefstroomkampus, het die navorsingsmodel op 1 September 2010 aan die Departement van Handel en Nywerheid in Pretoria voorgelê. 
 Dié model sluit ’n kragtige, interaktiewe rekenaarinstrument in. Dit is ’n sogenaamde “Decision Support Model” (DSM) DASHBOARD wat die navorsingsresultate visueel aanbied en die interpretasie daarvan vergemaklik.
 “Die DSM maak die navorsingsresultate van die uitvoermodel op ʼn gebruikersvriendelike manier aan die regering, uitvoerrade en uitvoerders beskikbaar en kan ʼn groot bydrae tot uitvoerontwikkeling in Suid-Afrika lewer,” sê prof Viviers.
 Volgens dr. Riaan Rossouw, die ontwikkelaar van die DSM DASHBOARD, kan Suid-Afrikaanse uitvoerrolspelers met die klik van die muis sien na watter lande hulle hul produkte kan uitvoer, en boonop inligting oor onder meer die marktoeganglikheid en ander ekonomiese inligting in die betrokke land kry. 
 Volgens prof Viviers sal die instrument die regering en die privaatsektor help om ’n gesamentlike gefokusde uitvoerbevorderingsplan saam te stel en om in ooreenstemming met mekaar te wees.
 Volgens mnr. Riaan le Roux, Hoof- bedryfsbeampte van Trade and Investment SA (TISA), is dié navorsingswerk beste praktyk in die wêreld. 
 ’n Ander lid van die span, prof. Ludo Cuyvers van die Universiteit van Antwerpen en buitengewone professor in die Skool vir Ekonomie het vroeër die DSM vir België ontwerp. Dit is egter deur die NWU-navorsers vir die Suid-Afrikaanse handelsomstandighede aangepas en verfyn en op ’n meer gedetaileerde produkvlak vir Suid-Afrika toegepas. 
 Vir Suid-Afrika is dit ʼn eerste, omdat dit vir die eerste keer uitvoergeleenthede op ʼn wetenskaplike basis bepaal en so die besluitneming in die Departement van Handel en Nywerheid ondersteun. 
 Uit ʼn moontlike 1,4 miljoen produk-land-uitvoerkombinasies, is 66 705 produk-landkombinasies, waarin Suid-Afrika realistiese uitvoergeleenthede het, geïdentifiseer.  Me. Ermie Steenkamp, ’n doktorale student aan die NWU en deel van die navorsingspan, het dié data sopas nog verder verfyn tot ongeveer 19 000 uitvoermoontlikhede. Dit kan uitvoerbevordering nog meer gefokus maak.

 Gepubliseer deur Nikki Nel op 8 September 2010.