
NWU kyk na waterstof as alternatiewe energiebron
Die Noordwes-Universiteit is in samewerking met die WNNR aangewys as een van drie vaardigheidsentrums (Centres of Competence) in die land wat navorsing oor waterstof as energiebron gaan doen.
|
|
|
Dr. Dmitri Bessarabov. |
Die departement van wetenskap en tegnologie (DWT) het in 2008 die handelsmerk Hydrogen South Africa (HySA) geregistreer om waterstof as veilige energiebron na te vors en te ontwikkel. Waterstof is ʼn energiedraer en word aangewend om energie te berg en te versprei en kan met die gebruik van brandstofsel-tegnologieë verbind word om elektrisiteit te produseer.
Waterstof-ekonomie geniet tans ernstige oorweging in Suid-Afrika om veilige, skoon en betroubare alternatiewe energiebronne in fossielbrandstowwe om te sit. ʼn Ander dryfkrag is dat 75 persent van die wêreld se platinumreserwes in Suid-Afrika aangetref word, met platinum groepmetale (PGMe) wat die sleutel-katalitiese materiale in brandstofselle is.
Drie vaardigheidsentrums, HySA Systems, HySA Catalysis en HySA Infrastructure, is deur die DWT gevestig om die HySA-strategie te implementeer en unieke verantwoordelikhede is aan elk van die sentrums opgedra wat daarop gerig is met om teen 2020, 25 persent van die wêreld se katalisator-aanvraag van kwaliteit platinum groepmetale te voorsien.
Die sentrum by die NWU, HySA Infrastructure CC, sal waterstofgenerering, -berging en –verspreiding saam met die WNNR navors.
Die direkteur van HySA Infrastructure CC, dr. Dmitri Bessarabov, is van Kanada gewerf vir die posisie. Hy het sy meestersgraad in chemie in Moskou verwerf en in 1996 sy doktorsgraad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal voordat hy na Kanada vertrek het om navorsing oor onder meer brandstofselle, waterstofenergie en toegepaste chemie te doen. Hy sal saam met die leidende rolspelers by die NWU-Puk, prof. Henning Krieg en dr. Cobus Kriek van die fokusarea vir chemiese hulpbronveredeling, en mnr. Frikkie van der Merwe van ingenieurswese, werk.
Die navorsing behels die intensiewe navorsing, aanvanklik op chemiese gebied, wat later met die opskalering daarvan sal oorgaan na ingenieurswese.
Moontlike produkte waarvoor die drie sentrums hulle sal beywer is draagbare kragbronne (wat skoner en stiller is as kragopwekkers), gekombineerde hitte- en kragbronne (vir verhitting van geboue en nywerhede) en moontlik ook vir brandstofsel-aangedrewe motors.
Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 22 September 2010.



