Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Gerber se Koepelkalenders word versamelstukke

Sy foto-argief oor die Vredefort Koepel bestaan uit meer as dertig duisend foto’s, wat jaarliks met nog ‘n paar duisend groei. Maar hy ag bitter min as goed genoeg om in sy kalenders oor hierdie wêrelderfenisgebied te verskyn.

2010 attie gerber kalender

Attie Gerber en die vyf kalenders oor die Vredefort Koepel wat hy tot dusver saamgestel het.


  Prof. Attie Gerber, ‘n dosent in dokumentêre video en foto-joernalistiek van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, kry die afgelope vyf jaar opdrag van die Noordwes-Provinsie om ‘n glansryke kalender oor die landskap, flora, fauna, geologie en kultuurerfenis van die Koepel en sy omgewing saam te stel.
  “Die opdrag skryf nie ‘n tema per jaar voor nie,” sê Gerber, “omdat die kalender die gebied in sy geheel moet uitbeeld. Daarom neem ek foto’s oor al vier die seisoene, as die son skyn, as dit bewolk is, en ek probeer om onvoorspelbare natuurgebeure soos vloede en brande te dokumenteer.”
  Gerber werk die afgelope dertien jaar pal in die Koepel, hetsy as videovervaardiger of as fotograaf. Hy het al verskeie dokumentêre video’s vir 50/50 oor die Koepel gemaak, asook ‘n inligtingsvideo wat by die inligtingskantoor op Venterskroon vir toeriste gewys word.
  Hy is die skrywer van Bogom, ‘n koffietafelboek oor bobbejane, en baie van sy foto’s is van die Koepel se bobbejane. Die boek is ook in Engels met die titel Baboons – Traits, Tales and Troubles vertaal.
  ‘n Tweede boek oor die Koepel is tegelyker in Afrikaans, Engels en Frans uitgegee. Vredefort Koepel – ‘n Klip uit die Hemel verduidelik met sowat 150 foto’s in leketaal die meteorietgebeurtenis en die nalatenskap van die groot slag wat meer as 2 000 miljoen jaar gelede plaasgevind het.
  Maar sy groot Koepelliefde bly steeds die kalenders.
  “Hierdie is van my heel beste foto’s, en omdat hulle so groot gedruk word, kry ek ekstra plesier,” verduidelik Gerber. “Maar om hierdie foto’s te kry en jaar na jaar dieselfde gehalte of beter te lewer, is nie maklik en goedkoop nie.”
  Gerber vertel dat hy een jaar toe die onweerswolke mooi saamgepak het, sewe dae na mekaar na dieselfde plek gegaan het om ‘n landskapfoto te neem.
  “Ek het nie een foto van kalendergehalte gekry nie. ‘n Paar dae later het ek toevallig dieselfde plek besoek ... en daar was my foto!”
Soms reageer hy op die ingewing van die oomblik.
  “In November 2009 het die weerlig eendag die rekenaar in my kantoor uitgeslaan en die krag was daarmee heen. Toe ek buite my kantoor kom, sien ek pikswart wolke in die noorde en ooste, maar toe ek by die universiteit uitry, sien ek die weste is heeltemal oop.”
  Volgens Gerber het hy onmiddellik ‘n geleentheid vir ‘n foto gesien.
  “Ek het my kameras gaan haal en na ‘n woudjie gewone haakdorings so 25 kilometer buite Potchefstroom op pad na Parys gejaag. Ek was vyf minute voor sononder daar, en watter wonderlike toneel het my nie ingewag nie!”
  Gerber sê hy het halsoorkop sy kamera en driepoot gegryp oor die draad gespring en na die woudjie gehardloop.
  “Die toneel was onbeskryflik. Die lae son het die kalerige haakdorings en afgevrete wintergras goud gekleur. Die agtergrond was donker wolke en ‘n perfekte en baie duidelike reënboog het simmetries oor die woudjie gehang. Nodeloos om te sê, ek het soos ‘n besetene met die kamera laat waai.”  (Foto hieronder)

2010 attie gerber kalender 2

Net-net betyds. As Gerber net vyf minute laat was, sou hy nie hierdie foto in November 2009 kon neem nie.


  Selfs sy vrou het hom van gepeutery met dié besondere foto verdink. Maar hy neem voorsorg teen agterdogtige kykers.
“Ek skiet in RAW, en dit is ‘n nie-vernietigbare formaat. Dit beteken dat al doen jy ook wat met die foto, iemand kan altyd die oorspronklike foto sien en beoordeel,” verduidelik Gerber.
  Gerber weet egter nie hoe lank die kalender gaan aanhou nie. Hy het tans so agt foto’s wat kalendergehalte is, en met die herfs en winter wat voorlê, hoop hy om die res te neem. Hy sê hy sal ophou as die foto’s nie meer uniek en goed genoeg is nie, en natuurlik as die provinsie hom nie meer opdrag gee nie.
  “Ek het wonderlik oor die jare met Annelie de Beer, Gustav Engelbrecht, Mohau Maputle, en Lebogang Diale van die provinsie saamgewerk, en as ek hulle, die uwe, en die gebruikers nie meer opgewonde kan maak nie, dan stop ek summier!”
  Sedert die eerste kalender in 2007 verskyn het, het die gewildheid jaarliks toegeneem. Vandag is ‘n Gerber-Koepelkalender ‘n versamelstuk.
  Gerber beplan ook om hierdie jaar ‘n foto-uitstalling met ‘n natuurhistoriese aanslag te hou.
  “Ek beplan iets met ‘n tema soos “Staan Nader”. Dit is abstrakte natuurfotografie waar as jy ‘n ent weg staan jy net teksture en vorms sien. As jy nader gaan, word die detail duidelik. Of jy ver of naby staan, maak nie saak nie - dit moet ‘n wow-ervaring wees!”

 Gepubliseer deur Kiewiet Scheppel op 17 Maart 2011.