
De Ridder praat saam met wêreldleiers oor kinderobesiteit
‘n Geprojekteerde 155 miljoen skoolgaande kinders en adolessente in die wêreld toon simptome van obesiteit en kinderobesiteit is besig om ‘n ernstige gesondheidsepidemie te word.

Proff. Hans de Ridder en Margaret Talbot van Engeland. Sy is tans die president van die grootste sambreelorganisasie van sportwetenskappe in die wêreld (ICSSPE).
Prof. Hans de Ridder, direkteur van die Skool vir biokinetika, rekreasie en Sportwetenskap van die NWU se Potchefstroomkampus, het onlangs teruggekeer van die VSA waar hy deel was van ‘n groep internasionale wêreldleiers wat by die Universiteit van Northern Iowa oor die globale probleem van kinderobesiteit in gesprek was.
De Ridder sê die jongste navorsing van die “International Obesity Task Force” toon dat dit inderdaad ‘n ernstige gesondheidsepidemie geword het.
Wêreldleiers uit meer as dertig lande op die gebied van fisieke aktiwiteit, sport en gesondheid het vir drie dae ernstig gepraat oor die gesondheidsprobleme wat met kinderobesiteit gepaard gaan. Hy sê hulle het veral probeer om oplossing te vind vir probleem.
“Wat duidelik na vore gekom het, is dat die gebrek aan fisieke aktiwiteit by kinders, die ongesonde manier hoe kinders tans eet en veral die uitfasering van liggaamlike opvoeding by skole in etlike lande, van die hoofredes is van dié probleem. Wat baie duidelike na vore gekom het, is dat die internet-generasie (soos vandag se kinders bekend staan) dringend meer aktief sal moet raak en gesonder sal moet eet as hulle nie reeds op ‘n jong ouderdom met ernstige gesondheidsprobleme en selfs kroniese siektetoestande gekonfronteer wil word nie.”
De Ridder sê die wetenskaplikes het ook tyd spandeer by die laer- en hoërskole in die dorp, Grundy Center, in Iowa, om te sien hoe suksesvol die skole is in die implementering van fisieke aktiwiteit binne die skoolkurrikulum. Die betrokkenheid van ouers en die gemeenskap het ook ‘n reuse rol in die suksesverhale gespeel.
Hy sê ‘n lewenslange aktiewe leefstyl is ongelooflik belangrik en dit moet van jongs af vir kinders aangeleer word. Dit sluit ook gereelde oefening en ‘n gesonde dieet in. “Fisieke aktiwiteit moet deel wees van die skoolkurrikulum met ‘n baie sterk fokus op gesondheid.”
Gepubliseer deur Nikki Nel op 3 Augustus 2010.


