CTexT™ kry kontrak van R5 miljoen
|
CTexT™ het stof in oorsese kenners se oë geskop met ’n kontrak van R5 miljoen wat die departement vir kuns en kultuur aan dié sentrum vir tekstegnologie toegeken het.
’n Projekvoorstel is in Oktober verlede jaar op uitnodiging van die DKK ingedien vir die ontwikkeling van herbruikbare tekshulpbronne vir die taaltegnologie-industrie. Die mededingende projekvoorstel was vanaf 'n konsortium tussen 'n aantal plaaslike en oorsese universiteite.
Die bedryfsbestuurder van CTexT, me. Ulrike Janke, sê die nuwe projek wat oor drie jaar sal loop, beoog baanbrekerswerk vir Suid-Afrikaanse tale, deurdat daar vir die eerste keer kerntegnologieë soos lemmatiseerders en morfologiese analiseerders, en gestratifiseerde tekskorpora (teksversamelings) vir al die amptelike landstale ontwikkel sal word.
Sy sê daar word al vir etlike jare navorsing hieroor onderneem en vir enkele tale het daar al taaltegnologiehulpbronne die lig gesien, maar dit sal die eerste keer wees dat teksgebaseerde projekte van hierdie omvang aangepak word.
|
|
“Die doel met die bronne wat daaruit voortvloei is die stimulering van navorsing en ontwikkeling in taaltegnologie in die Suid-Afrikaanse tale. Taaltegnologie is uiters afhanklik van die beskikbaarheid van bronne en die nuwe projek het ten doel om die mees basiese daarvan daar te stel sodat ons plaaslike tale ook met behulp van taaltegnologiese ontwikkeling vooruitgang kan maak.”
Janke sê die projek word bedryf binne die konteks van die nuwe Nasionale Sentrum vir Taaltegnologie binne die DKK, wat die ontwikkeling en bestuur van herbruikbare taalbronne en -tegnologieë in Suid-Afrika sal bevorder. Na verwagting sal hierdie sentrum elke drie jaar verdere projekte toeken ter wille van die voortdurende uitbreiding van hierdie bronne, en CTexT beoog om deur die goeie uitvoering van die
|

Me. Ulrike Janke, operasionele bestuurder van CTexT™ en mnr. Martin Puttkammer, hulpbronbestuurder.
|
|
huidige projek 'n gerekende vennoot in die toekomstige projekte te word.
Mnr. Martin Puttkammer, bestuurder vir hulpbronontwikkeling by CTexT en hoofprojekaansoeker vir hierdie projek, sal as projekleier optree. Prof Danie Prinsloo, die hoof van die departement vir Afrikatale by die Universiteit van Pretoria, sal op die projek saamwerk as taalkundige bestuurder en verantwoordelik wees vir die taalkundige aspekte van die projek, wat onder meer kwaliteitsversekering behels, sowel as die intrek van die nodige kundigheid ten opsigte van elke taal ten einde legitimiteit van die beoogde hulpbronne te verseker.
|
Gepubliseer deur Nikki Nel op 2 Maart 2010.