Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Bywoning van feeste in Suid-Afrika toon ‘n daling

Navorsing wat deur die Instituut vir Toerisme en Vryetydstudies van die Noordwes-Universiteit  se Potchefstroomkampus gedoen word, toon dat daar ‘n algemene daling is van mense wat feeste en kunstefeeste in Suid-Afrika bywoon.
  Prof. Melville Saayman, hoof van die instituut, sê hulle doen sedert 2002 navorsing by verskeie Suid-Afrikaanse feeste soos Aardklop, KKNK, Volksblad, Inni Bos en Grahamstad.
  Hy sê die navorsing toon dat verskeie faktore ‘n rol in die afname speel soos ‘n skerp toename in die groei van nuwe feeste, ‘n afname in Melville Saayman 180borgskappe (weens die resessie), asook die feit dat kunstenaars ‘n verskeidenheid alternatiewe geleenthede het waar hulle kan optree.
  Hy sê dit blyk asof Suid-Afrikaners besig is om ‘n versadigingspunt te bereik. “Die situasie kan ‘n negatiewe invloed op die kunste hê en veral die groot kunstefeeste in terme van die toekoms van sekere genres soos teater, drama en woordkuns, wat meestal by groot feeste aangebied word. Dit kan teen die huidige tempo ook lei tot die oorkommersialisering van die kunste.”
  Hy bepleit ‘n besinning in die aanbied van nuwe feeste, sowel as die samestelling van feesprogramme. “Bykans alle feeste bied tans ook selektiewe genres aan wat hoofsaaklik populêre musiek behels. Dit dra daartoe by dat daar ‘n ontploffing van Afrikaanse musiek is, maar wat nie noodwendig van goeie gehalte is nie.”
  Vir verdere inligting skakel prof. Melville Saayman by (018) 299 1810.

Prof. Melville Saayman 

 

 Gepubliseer deur Nikki Nel op 10 Augustus 2010.