
NWU-navorsingsfokusarea slaan tweede goue stetoskoop los
Dr Carla Fourie, senior lektor van die Skool vir Fisiologie, Voeding en Verbruikerswetenskappe en navorser verbonde aan die navorsingsfokusarea Hipertensie in Afrika Navorsingspan (HART), se artikel het vir die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) ‘n tweede goue stetoskoop in ’n ry losgeslaan.
Die artikel, “Is HIV-1 infection associated with endothelial dysfunction in a population of African ancestry in South Africa”, is as die beste gepubliseerde artikel in die Cardio Vascular Journal of Africa (CVJA) vir 2011aangewys.
Die toekenning wat aan dr Carla oorhandig sal word by die SA Hartvereniging se gala dinee op 21 Julie 2012 in Sun City, bestaan uit 'n goue geraamde stetoskoop. Die name van wenners sal daarop aangebring word en weens die waarde van die item, gaan dit in die raadsaal van die CVJA in Durbanville uitgestal word. ʼn Replika sal egter aan dr Carla oorhandig word.
“Dit was vir ons almal ʼn groot en aangename verrassing,” vertel dr Carla. “Dit is goed om te sien dat die impak van MIV op die kardiovaskulêre stelsel erken word en hopelik sal die navorsing in Suid-Afrika ʼn groot bydrae kan maak.”
Volgens dr Carla het haar twee studieleiers, Prof Johannes van Rooyen en Prof Alta Schutte, se aanmoediging, ondersteuning en ervaring tot die sukses van die artikel bygedra. “Danksy hul kundige vermoëns en volgehoue ondersteuning kon hierdie artikel gepubliseer word en ek kon ook my PhD suksesvol voltooi.”
Prof Marlien Pieters, dr Karin Conradie en dr Tiny Hoekstra, mede-outeurs van dié artikel, se bydrae word ook opreg waardeer.


