Printer-friendly version
Druk
Share this
 

NWU ingenieurs beïndruk met hul nuwe kompleks

'n Splinternuwe, ultramoderne ingenieurskompleks is pas op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus voltooi en amptelik geopen.

 Volgens die NWU se hoofdirekteur van fisiese infrastruktuur en beplanning, Louis van der Ryst, is dié R106-miljoen projek, die grootste wat die Potchefstroomkampus nóg aangepak het.

Prof Jan de Kock, waarnemende dekaan van dié fakulteit meen sowat 25 000 ingenieurstudente moet jaarliks gradueer as Suid-Afrika ekonomies mededingend wil wees, maar sê dat net 2 000 tans afstudeer. “Die behoefte aan ingenieurstudies bly aan die toeneem en dit was juis vir dié rede dat ons ‘n nuwe, groter fasiliteit moes bou”.

Die fakulteit beplan om die aantal ingenieurs wat by die NWU opgelei word te verdubbel binne die volgende paar jaar. Dit is as gevolg van die nypende tekort aan ingenieurs in Suid-Afrika, asook die besef dat opleiding van ingenieurs tot werkskepping en welvaartskepping lei.

Brenda Swart van die nasionale departement van hoër onderwys sê dis vir haar departement ’n prioriteit om meer gegradueerde ingenieurs in Suid-Afrika te hê omdat die tekort aan ingenieurs ’n drastiese invloed op infrastruktuurskepping het. “In Suid-Afrika bedien elke ingenieur sowat 3 000 mense – ons het heeltemal te min ingenieurs.”

Die gebou is 18 000 m² groot, het meer as 70 kantore en kan 1 200 studente huisves. Die ses lesinglokale kan na behoefte vergroot en verklein word en is so ontwerp dat vurkhysers tot binne die lokale kan beweeg om toerusting af te laai.

Die gebou is omgewingsvriendelik met baie natuurlike lig. Reën wat in ’n dam opgevang word, word gebruik om die gras en plante nat te lei. Die kompleks bestaan uit 'n kantoor, laboratorium en werkswinkelfasiliteite. Die dekaan van die fakulteit sal ook daar gehuisves word. Chemiese- en mineraalingenieurswese, asook elektriese- en elektroniese- en rekenaaringenieurswese sal hier tuis wees. Slegs meganiese ingenieurswese sal aanbly in hul huidige gebou.

Die gebou is ontwerp om projekgedrewe en probleem gebasserde onderrig moontlik te maak, en dosente kan die nuutste leerstrategiëe toepas omdat die ondersteunende tegnologie in die gebou beskikbaar is.

“Dit is vir ons ‘n voorreg om een van die modernste ingenieursopleidingskomplekse in die land op die been te kon bring. Hierdie is ‘n duidelike bewys van die NWU se innovasie en sy volgehoue verbintenis tot top-kwaliteit tersiêre onderrig, sê prof Herman van Schalkwyk, rektor van die NWU-Potchefstroomkampus.”


Die splinternuwe, ultramoderne ingenieursfakulteit van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, in volle glorie.