
NWU-HART slaan nog ‘n gesogte toekenning los
Een van dr Carla Fourie, ‘n navorser verbonde aan die Hipertensie in Afrika Navorsinggroep (HART) se artikels het vir die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus ‘n tweede goue stetoskoop in ’n ry losgeslaan.
Die artikel, “Is HIV-1 infection associated with endothelial dysfunction in a population of African ancestry in South Africa”, is as 2011 se beste gepubliseerde artikel in die Cardio Vascular Journal of Africa (CVJA) aangewys.
Die toekenning wat aan dr Fourie oorhandig is tydens die SA Hartvereniging se gala dinee by Sun City, bestaan uit 'n goue geraamde stetoskoop. Die name van wenners word daarop aangebring maar weens die waarde van die item, sal dit in die raadsaal van die CVJA in Durbanville uitgestal word. ʼn Replika is egter aan dr Fourie oorhandig.
“Dit was vir ons almal ʼn groot en aangename verrassing,” vertel dr Fourie. “Dit is goed om te sien dat die impak van MIV op die kardiovaskulêre stelsel erken word en hopelik sal die navorsing in Suid-Afrika ʼn groot bydrae kan maak.”
Volgens dr Fourie het haar twee studieleiers, Proff Johannes van Rooyen en Alta Schutte, se aanmoediging, ondersteuning en ervaring tot die sukses van die artikel bygedra. “Danksy hul kundige vermoëns en volgehoue ondersteuning kon hierdie artikel gepubliseer word en ek kon ook my PhD suksesvol voltooi.”
Prof Marlien Pieters, dr Karin Conradie en dr Tiny Hoekstra, mede-outeurs van dié artikel, se bydrae word ook opreg waardeer.
Dr Carla Fourie ontvang haar toekenning van prof Lionel Opie. Prof Opie is ‘n bekende nasionale kardiovaskulêre fisioloog en is ook internasionaal hoog aangeskrewe.


