Printer-friendly version
Druk
Share this
 

NWU is gasheer vir SARIMA-konferensie 

POTCHEFSTROOM - Die vyfde jaarlikse konferensie van die Suider-Afrikaanse Navorsings- en Innovasiebestuur-vereniging (SARIMA) is onlangs deur die Noordwes-Universiteit (NWU) aangebied en is deur 110 afgevaardigdes van 15 lande bygewoon.

Die tema van die Konferensie was “Navorsings- en Innovasiebestuur: Sleutel tot Voorspoed”.

In sy openingstoespraak het dr Theuns Eloff, Visekanselier van die NWU, aan afgevaardigdes van lande soos Ghana, Kenia, Sierra Leone, Canada, die VSA en die VK gesê hy glo dat innovasie ʼn nuwe manier van kyk en doen is wat tot waardetoevoeging lei. “Een van die NWU se strategiese prioriteite is om ʼn voortreflike universiteit in Afrika te word, gedrewe deur die strewe na kennis en innovasie,” het dr Eloff gesê.

Hy ondersteun die standpunt dat leer kennis ‘voed’, en dat kennis tot innovasie lei. Innovasie gee aanleiding tot verandering, wat op sy beurt weer die leerproses bespoedig, en daarmee die virtuele innovasie-siklus voltooi.

Hy het bygevoeg dat dit baie belangrik is om na die kritiese faktore te kyk wat 'n rol speel in die bevordering van innovasie. So moet 'n instelling se prosesse byvoorbeeld innovasie ondersteun. Daar behoort ook insentiewe te wees om innovasie aan te moedig.

Die subtemas van die Konferensie was “Die bestuur van navorsing en ontwikkeling”, “Bestuur vanaf die akademiese idee tot kommersiële uitset”, “Beste praktyk in navorsings- en innovasiebestuur” en “Gevallestudie oor navorsings- en innovasiebestuur”.

Die hoofspreker by die Konferensie was me Sara Farley, 'n wetenskap- en tegnologiestrateeg by die Wêreldbank, VSA. Haar voorlegging se titel was “Die globale wetenskapsnetwerk: hoe om daaruit te put.”

SARIMA het in 2002 tot stand gekom en is betrokke by die fasilitering en ontwikkeling van alle aspekte van navorsing en innovasie.

 Sarima_klein

Die SARIMA-konferensie, aangebied deur die Noordwes-Universiteit, is deur 110 afgevaardigdes van 15 lande bygewoon.