Printer-friendly version
Druk
Share this
 

BEHEER EN BESTUUR
Ampsdraers

Visekanselier

Die Visekanselier is die hoof- uitvoerende en rekenpligtige beampte wat vir die bestuur en administrasie van die Noordwes-Universiteit (NWU) verantwoordelik is. Die Visekanselier, dr T Eloff, is vir ’n tweede vyfjaartermyn, tot Mei 2014, deur die NWU-raad aangestel.

Dr Theuns Eloff – ’n kort geskiedenis

Theuns Eloff is in 1955 in Potchefstroom gebore en het sy Baccalaureus-graad in die Regte in 1974, en teologie (cum laude) in 1980 aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) verwerf. Hy het vir drie jaar as VSR-voorsitter gedien en in 1979 as voorsitter van die nasionale liggaam vir Afrikaanse studente. Hy was mede-opsteller van die bekende Koinonia-verklaring en ’n stigterslid van die nierassige politieke studente-organisasie POLSTU. Tydens sy twee jaar van nasionale diensplig het hy sy meestergraad in Teologie (cum laude) voltooi. Terwyl hy vir ’n tydperk van ses jaar predikant van ’n gemeente by die Universiteit van Pretoria was, het hy sy doktorsgraad in Teologie voltooi met ’n verhandeling oor “Staat, Geregtigheid en Rasseklassifikasie”.

In die nadraai van die probleme wat gespruit het uit sy insluiting by die afvaardiging wat in Julie 1987 verteenwoordigers van die ANC in Dakar ontmoet het, het hy in 1989 besluit om die bediening te verlaat en het hy by die Consultative Business Movement (CBM) aangesluit, waar hy in 1990 as Uitvoerende Direkteur aangestel is. Hy het gehelp met die beplanning en fasilitering van die Nasionale Vredeskonvensie, wat in September 1991 tot die ondertekening van die Nasionale Vredesverdrag gelei het.  Hy was die hoof van die proses- en sekretariële dienste by Kodesa en was aan die hoof van die administrasie van die veelparty-onderhandelingsproses na Kodesa.

Hy was mederedakteur van twee boeke: “Managing Change” en “Building a Winning Nation - Companies and the RDP”, en het verskeie artikels oor die rol van die burgerlike samelewing in konflik, fasilitering en mediasie geskryf. Hy was tot Mei 1994 die Adjunk- Uitvoerende Direkteur van die Oorgangs- Uitvoerende Raad (TEC).
Hy het ’n aantal toekennings ontvang ter erkenning van sy rol in die onderhandelingsproses.

Die Junior Kamer van Suid-Afrika se toekenning as een van vier uitstaande jong Suid-Afrikaners (1994).
Die Harvard Business Club Statesmen of the Year-toekenning, ter erkenning van CBM se rol in die oorgang (1994).
Die Junior Kamer Internasionaal se “Tien uitstaande jongmense van die wêreld”-toekenning (1995).
Die Wêreld Ekonomiese Forum se verering as een van die “100 wêreldleiers van môre” (1996).

Dr Eloff is in Februarie 1995 aangestel as Hoof- Uitvoerende Beampte van die Nasionale Besigheidsinisiatief (NBI). Onder sy leierskap het die NBI ’n betekenisvolle bydrae tot die sukses van die nuwe Suid-Afrika gelewer, onder andere deur die R1 miljard Besigheidstrust en Besigheid teen Misdaad (BAC). Hy het op die Ekonomiese Adviesraad van die Noordwes-Provinsie gedien en ook op die direksies van BAC en die Sentrum vir Konflikresolusie. Hy het ook aan Wits se Besigheidskool vir MBA-studente klas gegee.

In Januarie 2002 het hy die Visekanselier van sy Alma Mater geword.  Hy het ’n nuwe bestuursfilosofie gevestig en ’n leidende rol gespeel in die samesmelting van die Potchefstroomse Universiteit met die Universiteit van Noordwes. Hy is in Mei 2004 as die eerste Visekanselier van die nuwe Noordwes-Universiteit (NWU) aangestel. Onder sy leierskap het die NWU een van die suksesvolste, mees stabiele samesmeltings in Suid-Afrika se hoëronderwyssektor beleef, en die NWU is op pad om homself as een van die topuniversiteite in Suid-Afrika te vestig.

Dr Eloff is in 2005 tot adjunkvoorsitter van Hoër Onderwys Suid-Afrika (HESA) verkies, en in 2007 tot voorsitter vir ’n termyn van twee jaar. Hy was ook adjunkvoorsitter van die Vereniging van Statebondsuniversiteite, vir die tydperk 2007 tot 2009. Hy is tot voorsitter verkies vir die termyn 2009 tot 2011.  Hierbenewens is hy as voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut vir 2011 en 2012 verkies.

Hy is ’n direkteur van Astral Foods en die FW de Klerk-stigting. In 2008 het hy ’n eredoktorsgraad in die Regte van die London South Bank University ontvang.

Hy beskryf homself as ’n “doeltreffende bestuurder” eerder as ’n akademikus, alhoewel hy al ’n aantal artikels en publikasies, veral oor konflikoplossing en die rol van die private sektor en burgerlike samelewing, gepubliseer het.

Kliek hier vir meer inligting