Printer-friendly version
Druk
Share this
 

NWU begin skoolgebaseerde opleiding vir toekomstige ingenieurs

'n Tekort aan tegniese, ingenieurs- en tegnologiese vaardighede bedreig die toekomstige ekonomiese groei van Suid-Afrika. Die situasie is nou van so ernstig dat die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, dr Blade Nzimande, universiteite uitgedaag het om hulle graduandi in hierdie sektore te verdubbel.

In antwoord hierop, gaan die Noordwes-Universiteit (NWU) nou toekomstige ingenieurs vanaf 2013 oplei terwyl hulle nog op skool is. 

Om dit te laat gebeur, het die Fakulteit Ingenieurswese op die Potchefstroomkampus van die NWU 'n akademie vir wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en gesondheid (WITG) by Hoërskool Ferdinand Postma in Potchefstroom tot stand gebring.

Hierdie strategie is 'n inisiatief van die Fakulteit Ingenieurswese, in samewerking met verskeie NWU-fakulteite, naamlik die Fakulteite Gesondheidswetenskappe; Landbou, Wetenskap en Tegnologie; Natuurwetenskappe; en Opvoedkunde. Die Noordwes se Departement van Basiese Onderwys is ook 'n waardevolle vennoot in die projek wat in 2013 in werking sal tree.

Volgens me Elza Hattingh, Bestuurder: Werwing, keuring en studentesake by die Fakulteit Ingenieurswese, is die verhoging van studente-inname nie genoeg om die probleem op te los nie.

"Ons besef dat die saak tweeledig is," sê sy. "Ja, ons benodig meer graduandi, maar ons sal die nie inname van studente kry wat ons nodig het as ons nie iets doen oor die uiters lae getal skoolverlaters wat genoeg punte en relevante vaardighede het wat nodig is om vir die moeiliker professionele akademiese programme in te skryf nie."

Die skaal van die probleem is duidelik as daar gekyk word na die getal leerders wat deur die onderwysstelsel gekom het. Slegs 23% van die 1,6 miljoen leerders wat graad een in 1995 begin het, het matriek verwerf. Slegs omtrent 2 000, of 0,11% van hierdie studente, sal as ingenieurs kwalifiseer.

"Hierdie skokkende uitvalsyfer is 'n mors van menslike potensiaal en is een van die redes waarom daar so ‘n tekort aan ingenieurs is. Dit is ook waar vir verpleegsters, wetenskaplikes, WIT-onderwysers en ander wetenskaplikes op die WITG-gebiede," sê Elza. "Gekonfronteer met hierdie syfers, het ons besef ons het iets nodig wat sal verseker dat beter ingenieurs oor 'n korter tyd opgelei sal word."

Universiteite het probeer om geld in remediëringsprogramme op universiteitsvlak te stoot, of om die lengte van 'n graadkursus te verleng deur 'n grondslagjaar by te voeg.  Maar die NWU glo dit is te min, te laat.

Die NWU verwag dat die WITG-Akademie tot die volgende strategiese doelstellings sal bydra:
•    Om die lewering van gegradueerde ingenieurstudente met ten minste 30% te vergroot;
•    Om die groepdeurvloei van 65% tot 80% te vergroot met 60% wat in vier jaar klaarmaak; en
•    Om die getal graduandi van voorheen benadeelde groepe te vergroot en om die persentasie van vroulike graduandi tot 30% te vergroot.

'n Memorandum van Verstandhouding tussen die Departement van Onderwys en die NWU is onlangs onderteken en die program sal in 2013 met 'n inname van graad agt-leerders begin.

Elke jaar sal 'n volgende graad bygevoeg word sodat die skool oor vyf jaar WITG-klasse op alle vlakke sal aanbied. Die leerders sal die normale skoolkurrikulum volg, maar sal ook ekstra klasse in WITH-vakke kry. In die middae sal hulle aan 'n verrykingsprogram by die universiteit deelneem waar hulle die teorie wat hulle geleer het, op 'n praktiese manier sal toepas.

Die samewerking van die bedryf is 'n belangrike deel van die program en sal verseker dat die leerders gementor word.

"Ons hoop dat baie van hierdie leerders by die NWU sal inskryf, maar ons voorspel dat wanneer hierdie leerders matriek voltooi het, hulle vir enige universiteit in die wêreld gereed sal wees," sê Elza.

Die privaatsektor word vriendelik uitgenooi om die NWU te skakel indien hulle meer inligting verlang of as hulle by hierdie interessante inisiatief betrokke wil raak.