Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Noordwes-Universiteit open Sentrum vir Kind-, Jeug- en Familiestudies

Potchefstroom - Die amptelike opening van die NWU se nuwe Sentrum vir kinder-, jeug- en familiestudies (SKJF), is op die 4 Oktober vanjaar in Wellington (Wes-Kaap) gevier.

Die openingsaand is onder andere bygewoon deur die NWU (Potchefstroomkampus) se Proff Herman van Schalkwyk (Rektor), Mariëtte Louwes (Viserektor: Onderrig-leer), Marlene Viljoen (Dekaan Gesondheidswetenskappe), belangrike rolspelers uit die gemeenskap en personeellede.

Volgens prof Retha Bloem, Direkteur van die Sentrum, was die aand ‘n groot sukses en ‘n ideale netwerkgeleentheid. “Ons is baie opgewonde oor die rimpeleffek wat die openingsaand veroorsaak het. Uitstekende navorsingsgeleenthede en samewerking het veral uit hierdie geleentheid gevloei.”

“Prof Johan Anker, van CPUT (Cape Peninsula University of Technology), het reeds aangedui dat die Universiteit belang sou stel om hul voorgraadse programme op so ‘n manier te belyn dat hul nagraadse studente vir die SKJF kan aflewer,” vertel prof Bloem. “’n Paar Kerke in die gemeenskap het ook reeds aangedui dat hul ons samewerking verlang en dat ons by hul gemeenskapsprojekte vir navorsing betrokke moet raak.”

Verder het die Departement van Gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap ook SKJF genader om die lewensvatbaarheid van hul “Safe Schools Project”, wat ook nuwe deure vir navorsing sou kon oopmaak, te toets.  

Die hoogtepunt van die aand kan volgens prof Bloem aan prof van Schalkwyk se toespraak toegeskryf word. “Dit was vir ons goed om te hoor dat die Noordwes-Universiteit tot bepaalde uitkomste en ondersteuning van die SKJF verbind. Die volgehoue berokkenheid van die NWU en Fakulteit binne die konteks van gesondheid in die breë, is ook herbevestig.”

Die SKJF het reeds begin met hul keuringsproses vir 2012 en volgens prof Bloem is daar ‘n voortreflike aantal aansoeke reeds ontvang. Aansoeke word die 24 Oktober 2011 gesluit.

 

 

 

 

 

Gepubliseer deur: Pertunia Thulo
                                 18 Oktober 2011