
Noordwes-Universiteit (NWU) vereer sy woordvoerders
Institusionele Kantoor – By ʼn onlangse funksie is erkenning verleen aan akademici, navorsers en ander personeel vir hul bydrae om die NWU se mediaprofiel te verbeter. Die Universiteit is ʼn wonderlike bron van kundigheid en is die tuiste van ʼn groot aantal kundiges met uitgebreide kennis in ʼn wye verskeidenheid vakgebiede. Hierdie kundiges word aangemoedig om hul insigte deur middel van die media met die publiek te deel.
Tussen 1 Januarie en 31 Desember 2011 is die NWU 7 730 keer in die media vermeld. Hierdie syfer is meer as dubbel die syfer vir 2010, met ʼn totale advertensie-ekwivalente waarde van R170 222 129, waarvan die gedrukte media se aandeel ongeveer R100 miljoen beloop het. Van die 7 730 items het 5 037 in die gedrukte media verskyn, 1 054 in die uitsaaimedia en 1 639 in die aanlyn media. Daar was 7 182 gebalanseerde items, 538 positiewe items en slegs 10 items met ongunstige dekking.
Vir die eerste keer is individue vereer wat die meeste aangehaal is in die onderskeie kategorieë:
-
In die Gedrukte media is prof Tommy du Plessis, Direkteur van die Potchefstroomse Besigheidskool, die meeste aangehaal. Hy is deur die loop van die jaar 76 keer aangehaal, en het ʼn kontantprys van R5 000 ontvang.
-
In die Uitsaaimedia is mnr Theo Venter, spesiale adviseur in die kantoor van die Visekanselier en deeltydse dosent, die meeste aangehaal. Theo is 60 keer aangehaal (kontantprys: R5 000).
-
In die Aanlyn media is prof Frank Winde, Voorsitter van Geografie en Hoof: Mynwaternavorsingsgroep op die Vaaldriehoekkampus, die meeste aangehaal. Prof Frank is 35 keer aangehaal (kontantprys: R5 000).
Toekennings is ook oorhandig aan die individue wat die top-drie posisies in al die kategorieë gesamentlik beklee het. Prof Tommy du Plessis is die derde-meeste aangehaal, en het prysgeld van R10 000 daarvoor ontvang. Die persoon wat die tweede-meeste aangehaal is en prysgeld van R15 000 daarvoor ontvang het, is mnr Theo Venter.
Die toekenning vir die persoon wat die heel meeste van alle NWU-woordvoerders aangehaal is, in al die kategorieë gesamentlik, en wat prysgeld van R20 000 sowel as ʼn wisseltrofee ontvang het, het gegaan aan prof Andre Duvenhage, Direkteur in die navorsingsfokusarea Sosiale Transformasie en professor in Politieke Studies op die Potchefstroomkampus. Hy is 114 keer aangehaal in al die verskillende media gesamentlik.
Gedurende die funksie is twee lede van die Institusionele Bestuur vereer vir hulle rol in die verbetering van die NWU se mediaprofiel. Hulle is gesamentlik 347 keer aangehaal, met ʼn totale relatiewe advertensie-ekwivalente waarde van R8,3 miljoen. In die lig van hul posisies kon hulle egter nie in aanmerking kom vir toekennings nie. Hierdie persone was dr Theuns Eloff, Visekanselier van die NWU, en prof Herman van Schalkwyk, Rektor van die Potchefstroomkampus.
“Die NWU is ʼn kragbron van innovasie, ons het altyd iets nuuts om vir die wêreld te vertel, en ons sal aanhou om die storie te vertel van die Universiteit as instaatsteller van die toekoms. Die NWU bied meer as net ʼn opvoeding, ons bied mense ʼn plek in die wêreld” – het dr Eloff in sy verwelkomingstoespraak opgemerk.
Dr Theuns Eloff (links), Visekanselier van die Noordwes-Universiteit oorhandig die prysgeld en die wisseltrofee aan professor André Duvenhage, Direktuer in die navorsingsfokusarea Sosiale Transformasie en professor in Politieke Studies op die Potchefstroomkampus nadat hy as die NWU-woordvoerder aangewys is wat die meeste in 2011 in die media aangehaal is.
Navrae:
Louis Jacobs, Direkteur: Korporatiewe Kommunikasie, Institusionele Kantoor, Noordwes-Universiteit
018 299 4918 / 082 901 6435
Datum: 2 Mei 2012


