
Ma en dogter maak 'n gedugte span
Dit is nie aldag dat twee lede van dieselfde gesin saam graad kry nie, en wat hierdie prestasie nog meer merkwaardig maak is die feit dat albei 'n nagraadse kwalifikasie ontvang het. Dit is om hierdie rede dat die jaar 2010 vir altyd vir me Alwine Naude en haar dogter, me Viné Petzer - wat albei geregistreerde alumi-lede van die Universiteit is, 'n besondere betekenis sal hê.
Alwine Naude, alumni-lid en Alumni koördineerder
Die oomblik toe Alwine Naude die aankondiger haar naam hoor sê, toe loop die trane oor haar wange – nie omdat sy hartseer was nie, maar oor die grootsheid van die oomblik. As oud-student van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër onderwys (nou die Noordwes-Universiteit) het sy vir die eerste keer in 1973 as 'n graduandi oor die verhoog geloop toe sy die graad, BA Maatskaplike Werk verwerf het. In 1982 maak sy weer haar verskyning op die verhoog en ontvang 'n sertifikaat in Arbeidsverhoudinge. Tydens die 2010 gradeplegtigheid van die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU Vaaldriehoek), agt en twintig jaar na haar akademiese loopbaan, verwerf sy die graad BA Honneurs in Teologie . “As my kinders gelukkig en suksesvol is in wat hulle aanpak, dan is ek ook gelukkig,” sê Alwine en vertel dat geluk vir haar daarin opgesluit lê om aan die einde van die dag by haar huis te kom en gelukkig te voel oor waar sy is, wat sy doen en waarheen sy oppad is. Volgens Alwine was dié gradeplegtigheid 'n “onvergeetlike en vervullende” ervaring en getuig haar prestasie van die waardevolle les wat sy by haar kinders en kleinkinders geleer het, naamlik dat 'n lewe sonder drome nie die moeite werd is nie. “Ek is baie emosioneel oor die ervaring wat ek en my dogter saam deurgemaak het en dit beteken vir my baie om die verhoog saam met haar te kon deel,” verduidelik Alwine en voeg by dat haar gesin haar gedurig aangemoedig en ondersteun het terwyl sy met haar studies besig was.
Viné Petzer, alumni-lid en dosent
Minute na haar ma oor die verhoog gestap het, het Viné die graad M.Ed verwerf en so bewys dat die spreekwoordelike appel nie ver van die boom val nie. Vir Viné, 'n dosent verbonde aan die Skool vir Opvoedkundige Wetenskappe by die NWU Vaaldriehoek getuig haar ma se prestasie nie net van deursettingsvermoë en toegewydheid nie, maar ook van innerlike krag en geloof. Lees jy Viné se curriculum vitae word dit gou duidelik dat sy, nes haar ma, haar dagtaak met passie en oorgawe aanpak en het sy reeds verskeie toekennings en eervolle vermeldings ontvang. Laasgenoemde sluit ondermeer in: deelname aan die Nasionale Onderwys-toekennings in 2006, wenner van die Noord-Vrystaatstreek Onderwys-toekennings, finalis in die provinsiale Onderwys-toekennings en meer onlangs is sy genomineer as een van die Mees Inspirerende Dosente op die kampus – 'n toekenning wat in samewerking met die Sondagkoerant, Rapport, gemaak is.
Hierdie ma en dogter maak beslis 'n gedugte span, en die vraag op almal se lippe is of ons hulle in die toekoms weer saam op die verhoog gaan sien? In antwoord hierop glimlag Alwine en Viné net terwyl hulle blink-oog vir mekaar loer.
Gepubliseer deur Sipho Msolo op 28 Januarie 2011.


