Printer-friendly version
Druk
Share this
 

Ingenieursfakulteit nou internasionaal geaffilieer

Die Ingenieursfakulteit van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus het pas ‘n studentebeen van die gesogte Internasionale Instituut vir Elektriese en Elektroniese Ingenieurs (IEEE) op dié kampus gestig.

Die IEEE is die wêreld se grootste professionele assosiasie wat staan vir die bevordering van tegnologiese innovasie om ten einde die mensdom te bevoordeel. Dit is dan ook die IEEE se verantwoordelikheid om nuwe kennis en navorsing oor spesialisvelde in die ingenieurswese oor die wêreld heen te versprei.

Volgens prof Jan de Kock, waarnemende dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, is dit ‘n langverwagte ooreenkoms wat eindelik onderteken is. “Die stigting van die IEEE studentebeen op kampus beteken dat ons ons studente en personeel nog beter met innovasie, tegnologie en navorsing kan toerus. Deur middel van kongresse, opleidingsessies en spesiale lesings het ons beter toegang tot spesialiste in hul velde.”

Die IEEE is so gesog, dat sowat 80% van alle navorsingsartikels wat in joernale gepubliseer word, deur die IEEE gepubliseer word. Volgens prof Jan gee dit ook nou beter geleentheid aan die NWU-Potchefstroomkampus om lesings op internasionale vlak aan te bied. “Dié Instituut is in 10 streke oor die wêreld opgedeel. Meer as 10 000 lesings en kongresse vind jaarliks wêreldwyd plaas waaruit lede besonderse voordeel kan trek. Daar is reeds meer as 2 000 studentebene regoor die wêreld gestig, wat die geleentheid bied vir uitbreiding van kennis in belangevelde en beroepsmoontlikhede.”

 


Tydens die amptelike stigting van die IEEE se studentebeen op die NWU-Potchefstroomkampus, was, (van links na regs), me Leenta Grobler van die Fakulteit Ingenieurswese, prof Jan de Kock, waarnemende dekaan, en me Melanie Delport, president van die nuut-gestigte IEEE-studentebeen betrokke. Saam met hulle is prof Constantinos Papadias van Griekeland. Hy is tans een van die IEEE se voorste lektore. Prof Sunil Maharaj, van die Suid-Afrikaanse been van die IEEE is hier by hulle.