Printer-friendly version
Druk
Share this
 

DIE ROTARIËRKLUB VAN ORKNEY EN DIE NWU GLO DAT KLEIN BEGIN GROOT GEWIN IS

Institusionele Kantoor – Onderwysers van St Conrad's College, Klerksdorp Primary School en Strathvaal Primary School in Stilfontein is onlangs opgelei om kinders te leer lees met behulp van die Literacy For All-leesprogram. Met dié opleiding sal hulle ook hul kollegas in die latere programuitrol kan oplei. Dit is alles deel van ? Rotariërprojek wat in samewerking met die Noordwes-Universiteit se Taaldirektoraat op 15 Maart 2010 van stapel gestuur is.

Die doel van hierdie projek is die onderrig van lees in die moedertaal plus ten minste een addisionele provinsiale taal deur van Literacy For All, ? leesprogram gebou rondom stelle leesboeke wat trapsgewys opbou vir elke graad. Die voordeel van die program is dat dit deur Suid-Afrikaners vir Suid-Afrikaanse omstandighede ontwikkel is. Die borg het die materiaal in die amptelike tale (Setswana, Afrikaans en Engels) van die provinsie verskaf en die onderwysers is opgelei om die kinders in al drie te leer lees.

Dit volg nadat die Rotariërklub van Orkney ? erflating van die J.A. Neser Harry Bramley Trust ontvang het. Die oorspronklike gedagte was om die biblioteekfasiliteite van St Conrad's College op te knap, maar ná oorlegpleging met die NWU se Taaldirektoraat, is daar besluit dat die bevordering van geletterheid in die grondslagfase ? beter belegging sou wees – veral omdat die Rotariërs reeds betrokke was in ? aantal leesprogramme in die Wes-Kaap wat die Literacy For All-program gebruik. Hierdie projek sou dus ? belangrike proefneming in die Noordwes Provinsie wees om die bevindings in die Wes-Kaap te bevestig, maar meer leerders moes betrek word om die geldigheid daarvan te verhoog. Daarom was twee meer KOSH-skole betrek: Strathvaal Primary School in Stilfontein en Klerksdorp Primary School.

Die Noordwes-Universiteit beskou die projek as ? belegging in die toekoms van die streek se kinders. Daar is ? duidelike bewys van die direkte verband tussen leesprobleme in die laerskool en die gevolglike swak indiensneminggeskiedenis in die jong volwasse lewe. As die grondslag nie goed gelê is nie, is die bouers se pogings vergeefs. Basiese geletterheid word bereik na ongeveer drie jaar van formele opleiding. Ná hierdie drie jaar behoort ? leerder die verwerwing van basiese/fundamentele vaardighede te wys – gegewe dat die opleiding in die moedertaal plaasgevind het.

Die probleem is egter dat baie leerders nie in hulle huistaal onderrig word nie. Konseptualisering word belemmer deur wat, in die meeste gevalle, hoofsaaklik ? 'vreemde' taal is. Moedertaalonderrig verbeter nie net konseptualisering nie, maar dit help ook in die verwerwing van ander tale deur middel van die moedertaal – die beginsel is eers die bekende en dan die onbekende. ? Tweede taal word geleer op grond van bestaande vaardighede reeds verwerf in die huistaal.

Die leesprojek sluit aan by die doelwitte gestel deur die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga. Sy het in 2007 reeds beweer dat die feit dat moedertaal nie as onderrigmedium in laerskole gebruik is nie, bydra tot die swak prestasies van leerders. Daarom het sy die bevordering van die huistaal in die grondslagfase as doelwit gestel.
Daar is bewese sukses in die Wes-Kaap, waar die Rotariërs ongeveer 23 skole in die program borg. By die Isiphiwo Primary School in Khayelitsha is 600 leerders in die grondslagfase op hulle graad 3-leesvaardigheid getoets. In 2006 was slegs 5,3% op standaard, maar na ingryping tussen Augustus 2006 en April 2007, deur middel van die opleiding van onderwysers en leesboekies verskaf deur die Rotariërklub, het die resultate opgeskuif na 52%.

Bevindings van die projek in hierdie drie skole sal bekend gemaak word deur mediaverklarings en navorsingspublikasies en hopelik, met die hulp van borge, sal meer skole in Noordwes die program in die toekoms implementeer.

 

Navrae: Johan Blaauw of Karien Brits, Taaldirektoraat
                Institusionele Kantoor
                Noordwes-Universiteit
                018 299-4890 of 018 299-4892

Datum: 26 Maart 2010