
Bekroonde sakevrou nou buitengewone professor
’n Alumnus van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus wat ’n ma van 24 Afrika-mammas is, gaan nou ook kommunikasiestudente en -dosente onder haar vlerk neem wanneer sy haar kennis en vaardighede met hulle kom deel.
Prof Elain Vlok, Bestuurder van Korporatiewe Dienste by die suiwelmaatskappy, Clover, is onlangs as ’n buitengewone professor by die Skool vir Kommunikasiestudies van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aangestel. Prof Vlok is ’n oud-Puk en het van 1976 tot 1988 op die Kampus klas gegee.
Dié bekende en bekroonde in die bemarkingskringe sal nou van tyd tot tyd vir studente in ontwikkelings- en korporatiewe kommunikasie gaslesings aanbied.
Sy word ook daarvan “beskuldig” dat sy grade as nóg ’n stokperdjie inryg. Sy het aanvanklik haar studies aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) met ’n BSc Huishoudkunde-graad begin, en onder meer ’n graad in Biblioteekkunde, ’n Honneurs in Zoeloe en Kommunikasiekunde, ’n meestersgraad in Zoeloe en Sosiologie (Berading) en ’n doktorsgraad in Kommunikasiekunde behaal.
Sy het ná haar dae as dosent vir vyf jaar by Trust Bank as reklamebestuurder gewerk en is al die afgelope vyftien jaar by Clover. Prof Vlok het in dié tyd verskeie toekennings op ’n verskeidenheid forums vir haar sosiale verantwoordelikheidsprojek, Mama Afrika, ontvang. Daarby kan dié knap vrou ook met agt resepteboeke op haar kerfstok spog.
Volgens prof Paul Schutte, Direkteur van die Skool vir Kommunikasiestudies, is hulle verheug dat sy haar praktykgerigte kundigheid nou op 'n vaste grondslag deur middel van lesings en studiebegeleiding met die dosente sowel as die voorgraadse en nagraadse studente kan deel.

Proff Paul Schutte, Direkteur van die Skool vir Kommunikasiestudies, Elain Vlok, Bestuurder van Korporatiewe Dienste by Clover, met die trofee wat sy vir die beste presteerder of projek in sosiale verantwoordelikheid geskenk het, en dr Lynette Fourie, Vakvoorsitter van Kommunikasiestudies.


