
Bellatrix Dameskoshuis
Oor ons
Bellatrix is nou maar eers in haar negende bestaansjaar en het reeds groot naam op die NWU-Puk gemaak. Ons verwys na onsself as die Kampuskoshuis in die dorp, omdat ons aan jou alle geleenthede bied wat jy by ’n kampuskoshuis sal vind, terwyl jy in jou eie plekkie iewers in die dorp bly. Elke meisie wat by Bellatrix aansluit is verantwoordelik om haar eie nessie van haar keuse in die dorp te kry. Jou opsies is eindeloos: van jou ma se veilige nessie tot studentehuise of jou eie woonstel. Wanneer jy dan by Bellatrix registreer, kan jy aan alle aktiwiteite van jou keuse deelneem.
Bellatrix-dameskoshuis funksioneer as ’n groot, hegte gesin. Ons is uniek, energiek en passievol. Ons hooffokus vir 2012/2013 is om te verseker dat elke lid van Bellatrix gesien en waardeer word. Elke koshuislid is dus vir ons belangrik en ons wil elke individu help om haar volle potensiaal te ontwikkel.
Bellatrix is een van die ‘blink sterre’ in die hemelruim en is die Latyn vir ‘vroulike vegter’. As jy dus ’n ware tuiste op die Puk wil hê, is Bellatrix net die plek vir jou! Ons gaan jou help om jou plekkie op die Puk te vind, sodat jy ’n unieke en opwindende studentelewe kan ervaar – onvergeetlik, gebalanseerd en genotvol!
Bellatrix ding mee, neem deel en presteer op alle vlakke. In 2012 het die koshuis talle prestasies behaal en ons beplan om in 2013 saam met jou daarmee vol te hou. Dit is hier waar jy die ‘kultuurdier’ in jouself gaan ontdek, jou sporttalente entoesiasties gaan ontgin en natuurlik ook jou sosiale vlerke gaan sprei. Ons het ook akademiese raadgewers wat te alle tye daar is om jou te ondersteun en te help wanneer jy akademiese probleme ondervind. Ons koshuis is ook diep gewortel in aktualiteit – dit is hier waar ons as mede-Trixies mekaar as vriendinne ondersteun, ongeag ras, kleur, kultuur of agtergrond.
Ons kan met trots sê dat ons nie op enige vlak terugstaan nie. Die koshuis word deur ’n groep uiters bekwame en entoesiastiese Huiskomiteelede bestuur wat elkeen haar eie portefeulje behartig. Sonder die leiding van ons koshuisouers, prof Chris en tannie Martha van der Walt, sal die HK en die koshuis nie dieselfde wees nie. Bellatrix is baie bevoorreg om sulke ‘ouers’ te kan hê wat altyd daar is vir ons en oral betrokke is.
Ons koshuis is ook gegrond op geestelike waardes en daarom sien ons onsself as vrouevegters met die oë op God gerig: Vroue wat die Here ken en liefhet. Ons kan nie wag om jou te ontmoet nie. Bellatrix is ons passie – kom maak dit joune.


