Printer-friendly version
Druk
Share this
 

NWU-Puk vul sy atletiekkoffers

Die NWU-Puk se talentkoffers loop oor met eerstejaarsjuwele ná ’n heelparty uitstaande junioratlete hulle vanjaar by dié universiteit aangesluit het.
  Kragman Frans Coetzee, die Suid-Afrikaanse junior gewigstootkampioen, maak reeds opslae tydens oefensessies deur die 7 kg-bal meer as 18 m te stoot en daar wink ’n blink toekoms vir paalspringer Elandri Styger, wat brons tydens die SA juniorkampioenskappe gewen het.
 Anri Steyn was verlede jaar die naasbeste junior 400 m atleet in die land en Kim Dippenaar is ’n hoogspring-fenomeen in wording.
  Op die spiesgooifront is daar hoë verwagtinge vir Ruan Erasmus en Leandri Swiegers.
  Eersgenoemde spog reeds met ’n beste gooi van 76.64 m en laasgenoemde het tweede tydens die SA juniorkampioenskappe geëindig.
  Jorinda Coetsee sal saam met Sunette die NWU-Puk se hammergooi-vaandel vir die volgende paar seisoene dra en albei van dié jong vroue bars van talent.
  Een melkbaard wat vir vuurwerke kan sorg is die verspring wunderkind van Potchefstroom Gimnasium, Roelf Pienaar, w al reeds die 8 m-kerf verbygesteek het. Hy het in 2011 ’n brons by die Jeug Olimpiese Spele verower en om sy opgang dop te hou sal vir fassinerende kykstof maak.
  Nóg ’n Jeug Olimpiese-atleet, Schalk Burger, sal sy hakskene vir teenstanders in die 400 m hekkies wys.
  Die volgende jaar of wat sal ook wys hoe ver die appel van die boom af geval het vir Simoné Lubbe, dogter van Ronel Roodt (nou Lubbe).
  Roodt het die agtste vinnigste tyd nog in die 800 m vir vroue gehardloop toe sy die eindstreep in ’n tyd van 2:1,49 oorsteek het.
  “Dit is ’n opwindende groep nuwelinge met ongelooflik baie talent wat nou net verder ontwikkel moet word. Ek is baie opgewonde oor die vooruitsig van wat ons nuwe groep atlete kan oplewer,” het Terseus Liebenberg, atletiekbestuurder van die NWU-Puk, gesê.