
NWU-ingenieurs bemagtig gemeenskap met alternatiewe energie
Eerstejaarstudente aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus het met ‘n unieke konsep vorendag gekom om gemeenskappe met ‘n goedkoop, alternatiewe bron van energieopwekking te bemagtig.
|
Die toestel bestaan onder andere uit twee groot plastiekdromme, waarin beesmis, varkmis en hoendermis versamel word. |
As deel van ‘n eerstejaar ingenieursprojek, het ‘n groep studente ‘n mobiele energieverskafferstasie op die been gebring, wat gebruik kan word om elektrisiteit op te wek en gas te produseer wat verbrand kan word. Volgens die groepleier, Pieter Malan, is dié inisiatief gebore uit die gebrek en skaarsheid van vuurmaakhout in veral informele nedersettings. “Die beskikbare hout wat gebruik word om kos mee gaar te maak, is al in so mate verbruik, dat daar in ‘n radius van kilometers, geen brandhout meer beskikbaar is nie. Baie inwoners kan nie elektrisiteit bekostig nie, of het nie die infrastruktuur daarvoor nie.”
Die toestel wat hulle ontwerp, en suksesvol gebou het, bestaan onder andere uit twee groot plastiekdromme, waarin beesmis, varkmis en hoendermis versamel word. Wanneer die dromme geseël word, produseer die mis dan metaangas wat deur middel van ‘n geleidingspyp in ‘n kompressor gepers word. Vanuit die kompressor, word die saamgepersde gas na ‘n gasbrander toegevoer, wat aangesteek kan word en gebruik kan word om kos of water te kook.
‘n Verdere kenmerk wat dié toestel insluit, is dat die saamgepersde gas in die kompressor, na ‘n elektriese motor oorgedra kan word, om uiteindelik aan ‘n multi-kragprop elektrisiteit te verskaf. Hierdie elektrisiteit kan gebruik word vir verskeie ander toestelle wat elektrisiteit benodig.
Dié toestel, wat in die vorm van ‘n mobiele waentjie gebou is, sal binnekort na die Ikageng woongebied buite Potchefstroom geneem word om die effektiwiteit daarvan te toets. Inwoners sal dan die geleentheid kry om energie op te wek en te verbruik. Volgens Malan, neem dit sowat twee dae om genoeg gas te produseer, dat die energie daaruit vir ‘n maand gebruik kan word. Op die huidige skaal, lewer dit tans 600W energie, en wanneer dit vergroot word, kan dit tot 15kW elektrisiteit lewer. “Ons het reeds baie tyd aan navorsing hieroor spandeer en het gevind dat die toestel uiters volhoubaar is.”


