Alumni - Hermanus Pretorius

Alumni-toekenning

Mnr Hermanus (Maans) Pretorius: ʼn soliede grondslag deurstaan die toets van die tyd

Mnr Maans Pretorius is President van Seadrift Coke, die wêreld se tweede-grootste produseerder van petroleumgebaseerde naaldkooks (die sleutelgrondstof wat gebruik word in die vervaardiging van grafietelektrodes). Hy is gebaseer in Cleveland, Ohio in die VSA, en is ook ʼn visepresident van GrafTech, die elektrodevervaardiger waar hy 36 jaar gelede sy loopbaan afgeskop het.

Mnr Pretorius het sy voorgraadse studies by die voormalige Potchefstroomse Onderwyskollege en die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) voltooi. Hy het in 1970 ʼn BSc in Chemie en Plantkunde verwerf en in 1975 ʼn honneursgraad in Plantbiochemie, en later sy MBA aan die Vaaldriehoekkampus behaal.

Oor die jare heen het mnr Pretorius bedryfs- en verskaffingskettingposte in Europa, Asië en Afrika beklee.

Hoewel hy ver gereis het – geografies en professioneel – sedert sy studentedae onthou hy daardie tye met nostalgie. Die grondslag wat by die NWU gelê is, het die toets van die tyd deurstaan.