Alumni - FW de Klerk

Alumni-toekenning

Mnr Frederik Willem (FW) de Klerk: bevorder vrede en rekonsiliasie

Oudpresident FW de Klerk is ʼn hervormer van formaat. As Staatspresident het hy ʼn leidende rol gespeel in die demokratiese bestel van die Nuwe Suid-Afrika.

Sy besonderse leierskap is al wêreldwyd met verskeie toekennings bekroon. Behalwe vir die Nobelprys vir Vrede het mnr De Klerk ook al die Suid-Afrikaanse Orde vir Verdienstelikheid, die Prix du Courage Internationale (prys vir politieke dapperheid) en die Philadelphia-vredesprys ontvang.

In 2004 was mnr De Klerk een van die stigterslede van die Wêreldleierskapstigting (WLS), ʼn organisasie sonder winsbejag wat ten doel het om ʼn konstruktiewe rol te speel in die bevordering van vrede, demokrasie en ontwikkeling in lande wêreldwyd.

Sy leierskapskwaliteite het al duidelik geblyk toe hy nog ʼn student was aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Hy was aktief betrokke by studenteaangeleenthede en het sy BA- en LLB-grade in 1958 verwerf (cum laude).