Alumni - De la Rey Venter

Alumni-toekenning

Mnr De la Rey Venter: plaaslike talent met globale impak

Mnr De la Rey Venter is die Uitvoerende Visepresident: Gesamentlike Ondernemings, Shell Upstream International, wat deel uitmaak van een van die wêreld se grootste energierolspelers, die Royal Dutch Shell-groep.

Hy is verantwoordelik vir bedrywighede wat ongeveer 20% van die groep se olie en gas produseer en miljarde dollars in netto wins en kontant genereer. Die besighede wat deur hom bestuur word, het ʼn hele paar duisend mense in diens en het – met inbegrip van gesamentlike onderneming-personeel en permanente kontrakteurs – ʼn breër indiensnemingsvoetspoor van tienduisende.

As ʼn belangrike rolspeler in die olie- en gasbedryf is De la Rey ʼn trotse ambassadeur van sy alma mater, die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO), waar hy in 1994 gedien het as voorsitter van die Studenteraad en lid van die Universiteitsraad. Hy het ʼn BCom-graad in Rekeningkunde en Finansies (cum laude) aan die PU vir CHO verwerf.