Alumni - Bismark Tyobeka

Alumni-toekenning

Dr Bismark Tyobeka: ʼn kragbron van kennis

Dr Bismark Tyobeka word allerweë erken as een van die voorste kernkragkundiges in die wêreld en speel ʼn belangrike rol in verskeie inisiatiewe van die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA). Hy is die nuut aangestelde Hoof Uitvoerende Beampte van die Nasionale Kernreguleerder van Suid-Afrika.

Hy is ʼn kundige op die gebied van gasverkoelde reaktortegnologie-ontwikkeling in die IAEA se Kernkragafdeling. In hierdie hoedanigheid adviseer hy die agentskap oor alle tegnologie-ontwikkelingskwessies met betrekking tot gasverkoelde reaktors, met inbegrip van hoëtemperatuurreaktors. Dit sluit in vordering wat gemaak word met brandstofontwerpe, strukturele materiaal, kodes en metodeontwikkeling vir veiligheidsontleding.

Ten spyte van sy internasionale prominensie het hy nie sy wortels vergeet nie en hou hy kontak met die NWU se Sentrum vir Toegepaste Stralingswetenskap en Tegnologie en met baie oudstudente wat nou in die kernkragindustrie in Suid-Afrika werk.