Abraham Erasmus van Wyk | Alumni

Prof Braam van Wyk – terug na waar hy begin het

 

Dit is by die huis van sy kindertyd op ’n plaas naby Wolmaransstad dat prof Braam van Wyk sy liefde vir natuurwetenskappe en plante ontdek het. Vandag, as wêreldbekende plantkundige en -taksonoom, is hy die kenner oor die klassifisering van Suider-Afrikaanse bome en het ’n spesiale belangstelling in plantsistematiek, biogeografie, plantanatomie en stuifmeelkunde (palinologie).

Prof Van Wyk het ’n meestersgraad in plantkunde en ’n in hoëronderwysdiploma van die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Hy het ook ’n doktorsgraad van die Universiteit van Pretoria waar hy ’n professor in die Departement Plantwetenskap, bekleër van die Louis Botha-leerstoel, en kurator van die HGWJ Schweickerdt-herbarium is.

Hy is een van die produktiefste planttaksonome in Suid-Afrika en is die skrywer of medeskrywer van meer as 390 publikasies oor die plantkunde van Suider-Afrika, insluitende verskeie boeke.

Prof Van Wyk was ook verantwoordelik vir die opleiding van ’n noemenswaardige persentasie van die aktiewe planttaksonome in Suid-Afrika, van wie talle vandag belangrike posisies aan tersiêre en ander instellings beklee. Sy gewilde wetenskaplike publikasies oor veldblomme en bome is waardevolle verwysingsbronne vir die algemene publiek. Hy het ook die eerste elektroniese toepassing (app) vir die identifisering van bome in Suider-Afrika geproduseer.